KLAAR GEKLA 2017-05-30T11:41:29+00:00

Boewe kom los, polisieman stres,

        om elke hoek en draai is ‘n dwelmnes.

         Grond word vir onteiening gemerk,

         al soek jy ook, jy kry nie meer werk.

Kabels word gesteel, krag afgetap,

         almal maak beloftes net vir die grap.

         Zapiro teken prentjies van Zuma rape die law,

         Malema sing te lekker, elkeen het sy “flaw”.

         Koor 

         Ek is klaar

         Klaar gekla

         Klaar gekla

         oor Suid-Afrika.

Dis die Waterkloof 4 en Reitz plesier,

         en kos raak by die trollie onbekostigbaar duur.

         Rentekoerse styg terwyl die rand daal,

         almal het ‘n siening, selfs die slimmes faal.

Rassisme is ‘n beul waarop almal wil blaas,

         ‘n boer is nie meer ‘n boer op sy plaas.

         Die koerante het die perd al holrug gery,

         maar hulle ry hom nog ‘n keer vir die lekkerkry.

         Koor 

         Ek is klaar

             klaar gekla

         klaar gekla

         oor Suid-Afrika

Agter in die tonnel is ‘n lig wat skyn,

         ‘n son wat probleme soos mis laat verdwyn.

         ‘n Kruis en ‘n boek waarin ons antwoorde soek,

         ‘n reënboog vol belofte op die skilder se doek.

         Want ons dra

         ja, ons dra,

         die kruis

         vir Suid-Afrika