OM WEES TE WEES 2017-05-30T11:26:04+00:00

Om ‘n kombers te kan draai

om die skouers van sy kind

is die voorreg van elke Pa

en om te hoor hoe haar kinders klink

die trots van elke Ma.

En om aan die tafel te sit

en brood te kan breek

is die reg van elke kind

en elkeen moet in sy eie huis

liefde en warmte vind.

 

Koor 1:

Maar my tong lê stom

in die holte van my mond

en spreek geen

onreg aan . . .

ek is gemuilband

deur my Vaderland

en stil is

my Moedertaal.

  1. Maar nog steeds sal die erwe

van die Vadere

tot die sterfte van ons kinders lei

en die rykdom van die aarde

‘n diepe twispunt bly.

En om Wees te wees

in jou eie Huis

is ‘n tragiese verhaal

van vergrype uit die verlede

wat hulself vandag herhaal.

Koor 2:

Ja my lippe moet praat

oor woord en daad

maar spreek geen

 onreg aan . . .

ek is gemuilband

deur my Vaderland

en stil is

my Moedertaal.