Rubicon 2017-05-30T11:13:02+00:00

Drade word gespan

en mure word gebou

maar ons is self nie seker

wie dit binne (of buite) moet hou.

Maar vir ‘n 3 meter heining

is daar ‘n 4 meter leer

en waar ‘n wil of weg is

gaan niemand jou keer.

Koor:

Hier op die Rubicon se oewer

sal ons besluite moet maak

of ons droogvoets wil bly

en of ons nat gaan raak.

In ons buurt en ons gemeenskap

loei alarms dag en nag

word voorhamers hoog gelig

word beeld en skans verkrag.

En niemand kan vergewe nie

en niemand wil verstaan

dat breek jy jou eie goed

waar kom ander vandaan.

Koor:

En vir my lyk dit asof

die letsels om ons gees

veel langer vat as wat nodig is

om enigsinds te genees.

En dat die skerwe van beskawing

jou as mens sal knou

en dat jy nooit vry sal wees

as jy die kwade wil behou.